terug

Welgemeend

 

 


    'n Geskiedkundige oorsig deur me Christa Steyn, beheerliggaamslid:


‘n Huis by ‘n fontein…

Die grondbrief vir sowat 3,5 hektaar teen die hang van Tafelberg is in 1693 aan die vryburger Andries De Man uitgereik. In dieselfde jaar is De Man ook as sekunde van Simon van der Stel aangestel. Daar is goeie rede om te aanvaar dat die oorspronklike opstal kort daarna opgerig is. Na De Man volg ‘n reeks eienaars: Gerrit Vieroot, Jacob Vogel, Steven Verwey, Jan Coetzee, Gerrit Basson en Michael Ley. Ley was een van W A van der Stel se skaaphandelaars.

Jacobus Steyn, oudste seun van die Kompanjie se landmeter, Douw Gerbrandtz Steyn koop Welgemeend in 1719. Jacobus was die stamvader van pres. Paul Kruger, en sy tweede seun die stamvader van M T Steyn. In die jare na 1730 behoort die eiendom onderskeidelik aan J F C Michault, J Strydom, H Coetzee, N Coetzee, M de Kock en Arend de Waal.

Die Hofmeyr-era breek aan

In 1769 gaan die eiendom oor in die hande van Bartholomeus Bosch wie se weduwee in 1772 met Jan Hendrik Hofmeyr trou. So begin die Hofmeyr-era wat in 1943 – 171 jaar later – eindig.

Stephanus J Hofmeyr, die tweede seun van Jan Hendrik, en die oorgrootvader van Onze Jan Hofmeyr, erf die eiendom van 3,5 hektaar en vergroot dit drievoudig. Sy grond strek toe van Kloofstraat tot teen aan De Waalpark, en van Kampstraat tot bo teen die kranse. Hy vergroot ook die huis om by sy gesinsbehoeftes te pas. So kom die oostelike vleuel tot stand.

In die 19de eeu verkry Welgemeend sy finale beslag: ‘n breë stoep en swaar pilare wat ‘n prieël dra – met ‘n panoramiese uitsig oor die see.

Die huis het die afgelope twee en ‘n half eeue verskeie veranderinge ondergaan. In die 19de eeu is die boonste verdieping van die oostelike vleuel deur ‘n brand in puin gelê. Ook ander verbrekinge maak dit moeilik om die oorspronklike vorm te rekonstrueer. Dit word algemeen aanvaar dat die westelike deel die oorspronklike en oudste stukke bevat, terwyl die oostelike deel hoofsaaklik uit die aanbousel van Stephanus J Hofmeyr bestaan en dus sowat 180 jaar oud moet wees.

 Onze Jan Hendrik Hofmeyr (1845 - 1909)

Dié geniale politikus, stigter en leier van die Afrikanerbond en ‘n voorloper in Afrikaner-denke het byna sy lewe lank in Welgemeend gewoon. Die huidige voorste slaapkamer in die westelike deel het as sy studeerkamer gedien. ‘n Briewegleuf is vandag nog in die voordeur.

In die huis is van die belangrikste politieke figure van daardie tyd onthaal, o.a. pres. Paul Kruger, genl. Piet Joubert en dr. Jonsson. As huldeblyk aan Onze Jan is daar ‘n gedenkgewel oor die studeerkamer aangebring. Om estetiese en historiese redes is dit met die restourasie in 1950 verwyder.

‘n Nasionale Gedenkwaardigheid (1944)

In 1943 word Welgemeend deur die Kaapse Provinsiale Administrasie van dr. Harold Hofmeyr gekoop. Danksy vertoë en oorredingswerk deur die Nasionale Monumente-kommissie onder die destydse voorsitterskap van regter H S van Zyl word ‘n erg vervalle en verwaarloosde Welgemeend in 1944 tot ‘n historiese gedenkwaardigheid geproklameer – en so finaal van sloping gered.

In 1950 word met die restourasiewerk begin en by voltooiing is dit aan die Hoërskool Jan van Riebeeck as prinsipaalswoning beskikbaar gestel.

In 2001 het die Beheerliggaam van Jan van Riebeeck besluit om die Opstal te verander in ‘n onthaal- en konferensiesentrum.

 ‘n Tuiste vir die Boerneef-versameling

Die hoogstaande versameling Suid-Afrikaanse kuns wat deur wyle Prof I W van der Merwe (pseudoniem: Boerneef) aan die skool nagelaat is, permanent uitgestal in Welgemeend. Boerneef was ‘n kundige en liefdevolle versamelaar. Onder die sestigtal skilderye, etse, tekeninge en monotipes is daar onder andere werke van Irna Stern, Maggie Laubser, May Hillhouse, Cecil Higgs, Jean Welz, Hugo Naudé, Enslin du Plessis, Pierneef, Alexis Preller en Pieter Wenning.

In ‘n aangrensende lokaal word Boerneef se waardevolle boekery gehuisves.


terug

Riëtte Luitingh @ 021 422 2601