Welgemeend, ‘n unieke belewenis

Welgemeend is ‘n pragtige historiese gedenkwaardigheid omring deur lowerryke, goedversorgde tuine. Voorwaar ‘n gebou en fasiliteit waarop ons opreg trots is.

Hierdie tradisieryke, ou Kaaps-Hollandse huis is egter ook ‘n goed toegeruste fasiliteit en speel ‘n baie belangrike rol in die hartklop van ons skool. Verskeie leerderaktiwiteite, met die klem op kultuur en musiek, word hier geakkommodeer. Die leerarea, gasvryheidstudies, se restaurantaande vind ook hier plaas. Talle prestigefunksies van die skool word juis hier gehou om soveel as moontlik ouers en ander besoekers bekend te stel aan hierdie juweel op ons skoolgronde.

Welgemeend is egter ook ‘n bron van inkomste vanweë die feit dat die fasiliteit gereeld uitverhuur word vir troues, privaatfunksies, kongresse, werkswinkels en opleidingsgeleenthede. Kunsuitstallings, toneelopvoerings en musiekkonserte word gereeld hier gehuisves. Welgemeend is ook die tuiste van ‘n unieke en uiters waardevolle versameling skilderye.

Jy kan eers waarlik ‘n Jan van Riebeecker wees as jy oor die drumpel van hierdie pragtige fasiliteit getree het. Ons hoop om dié historiese voordeur ook spoedig vir jou oop te maak.

Vir enige navrae, kontak Mev. Karin Koch by 082-774-5915, stuur ‘n e-pos aan karin@welgemeend.com of besoek Welgemeend se eie webtuiste by http://www.welgemeend.com/