Sportsoorte

Atletiek
Die atletiekseisoen spring elke jaar weg met die kleure-atletiek waarby die hele skool betrokke is. Daarna berei ons voor vir Interskole. Atlete het ingeskryf vir die sone-byeenkomste waarvan 33 tot by die WP-Kampioenskappe gevorder het. Twee atlete is in 2013 opgeneem in die WP-span wat aan die Junior Nasionale Kampioenskappe in Pretoria deelgeneem het. Beide die atlete het goed gevaar. Ebeth Marais het in die 3000m en die 5000m vir vroue o.19, vierde plekke behaal en Mia Labuschagne het in hoogspring vir meisies o.17 ‘n derde plek behaal.

Tydens die SA-skole Atletiekkampioenskappe 2013 in Port Elizabeth het Ebeth Marais ‘n tweede plek behaal in die 5000m. Beide Ebeth en Mia het ook in 2013 deelgeneem aan die senior Suid-Afrikaanse Kampioenskappe wat op Coetzenburg gehou is. Anina Claasen het in 2014 die SA Klub Kampioenskappe in Coetzenberg deelgeneem.

Hokkie
Hokkie is ‘n spansport wat fiksheid, koördinasie, balvaardigheid en samewerking in spanverband vereis en bevorder. By Hoërskool Jan van Riebeeck poog ons om by seunshokkie en meisieshokkie met behulp van goed-gekwalifiseerde afrigters, die beste geleentheid moontlik vir ons leerders te skep.

Jan van Riebeeck het 4 meisiespanne en 2 seunspanne in die WP-hokkieliga. Die hokkiespanne woon gereeld afrigtingsklinieke by en daar word jaarliks toere gereël waartydens leerders die geleentheid kry om vriendskaplik teen ander skole mee te ding.
Netbal
Uitstaande prestasies word jaarliks in netbal behaal. Jan van Riebeeck het vanjaar die meeste spanne ingeskryf in baie jare. Weeklikse oefening vind plaas waartydens spelers se fiksheid, tegniese- en spanspel geslyp word. Die netbalspanne het die afgelope paar jaar gespog met topplekke in die A-liga, asook WP-spelers in verskillende ouderdomsgroepe.

Krieket
Hoërskool Jan van Riebeeck beskik oor goeie krieketfasiliteite en skryf ‘n o.19A- en ‘n o.15A-span in vir die liga. Beide spanne word afgerig deur professionele afrigters. Ons het vanjaar ons 2de baanblad ingerig asook die krieketklubhuis wat pragtig gerestoureer is.

Swem
Puik prestasies word in swem behaal. Jan van Riebeeck is deel van die WP A-liga en swemmers sien baie uit na die WP-skolegala op Nuweland. Swemgala’s vind op Donderdae plaas. In 2014 het Gianna Marais deelgeneem aan die vlak 3-kampioenskappe. Ifke Dorland het aan die SA- Oopwaterkampioenskappe deelgeneem.
Tweekamp
Moderne Tweekamp (swem en landloop) word deur Hoërskool Jan van Riebeeck aangebied. Byeenkomste vind op Woensdae en Saterdae plaas. Jan van Riebeeck is van die min skole wat vervoer verskaf vir atlete na en vanaf byeenkomste.

Die tweekampatlete neem jaarliks deel aan die Highgate- Interprovinsiale byeenkoms op Oudtshoorn. Die afgelope 4 jaar is ons atlete goed verteenwoordig in die WP-span (2010 – 9 atlete, 2011 – 7 atlete, 2012 – 7 atlete, 2013 – 5 atlete, 2014 – 6 atlete)

Landloop
Ons landloop is geaffilieer by die WP-skole landloop en ons atlete kompeteer op provinsiale en nasionale vlak. Die wedlope vind weekliks op Woensdagmiddae plaas en busvervoer na en vanaf byeenkomste is beskikbaar. Leerders word daagliks met behulp van wetenskaplik saamgestelde programme gehelp en oefeninge vind plaas op verskillende terreine in en rondom die stadskom.

Ons is trots om te vermeld dat ons skool jaarliks atlete het wat op nasionale vlak deelneem.

Gholf
Gholf slaan af in die tweede kwartaal en Jan van Riebeeck se tuisbaan is die Milnerton Gholfklub. Ligawedstryde vind op Maandae plaas en busvervoer is beskikbaar. Ons het in die derde liga gespeel, maar in 2014 opgeskuif na die tweede liga.

Skaak
Elke jaar word ‘n skaakspan vir die WP-Skole Skaakliga ingeskryf. Ons neem tans deel in die sentrale distrik en skaakwedstryde vind gewoonlik op Vrydagmiddae plaas. Baie van ons leerders neem ook aan die CHESSA-individuele toernooie deel.

Lyfplank
Lyfplankryers sien elke jaar uit na die golwe wat om hulle breek en die wind wat in hulle ore suis. Ons span neem deel in die eerste liga en vaar jaarliks baie goed.

Lyfplankkompetisies vind elke tweede Vrydag van die tweede en derde kwartaal plaas. In 2008 het Hoërskool Jan van Riebeeck tweede geëindig in die nasionale kompetisie.

Tennis
Hoërskool Jan van Riebeeck neem jaarliks aan die WP-skoleliga deel.

Die skool het puik tennisfasiliteite (4 bane en ‘n pawiljoen) en professionele afrigting word aangebied. Ligawedstryde vind plaas in die eerste kwartaal. Ons het vanaf 2014 ook ‘n winter-program.

Rugby
Rugby het sedert die beginjare van Hoërskool Jan van Riebeeck ‘n groot rol in die vorming van die skool se etos en kultuur gespeel. Ons skool het reeds vyf Springbokke opgelewer, sowel as verskeie provinsiale- en klubspelers. Jan van Riebeeck het beslis van die mooiste geleë rugbyvelde wat daar is en dít maak ‘n besoek aan ons rugbytuiste altyd ‘n spesiale afspraak. Besoekende toerspanne van die buiteland is altyd baie gretig om ‘n wedstryd aan die voet van Tafelberg teen Jan van Riebeeck te speel en dit dra by tot ‘n blywende rugbykultuur en tradisie.

Waar hulle ookal speel, is Jan van Riebeeck se rugbyspanne al vir baie jare teenstanders wat agting afdwing. Die tradisionele wit is reeds vir dekades in gebruik. Ons twee rugbyvelde is die J.H. Buysveld en die Boshoffveld. Die Buysveld is op 7 Junie 1960 in gebruik geneem toe die Maties se Makotter Span in ‘n vertoonwedstryd gespeel het. Die legendariese dr. Danie Craven het as president van die SA-Rugbyraad, die opening van die veld waargeneem.

Rugby is steeds die grootste wintersport by Hoërskool Jan van Riebeeck. Ons het vanjaar agt spanne in die liga. Die meeste ouderdomsgroepe word deur buite-afrigters afgerig en bygestaan deur ‘n Jan van Riebeeck-leerkrag as spanbestuurder. Profesionele kondisioneerders help om ons spanne fiks te hou. Jan van Riebeeck beskik oor ‘n gimnasium waar die seuns kondisioneringswerk doen.

Ons het ‘n gesonde toerkultuur en het reeds verskeie rugbytoere oorsee onderneem waarvan die jongste in April 2013 na België en Frankryk plaasgevind het.

Legendes en karakters sal jy altyd vind rondom stories wat langs en tussen die wit lyne afspeel. Jan van Riebeeck sou soveel armer wees as daar nie jaarliks nuwe stories en prestasies op ons rugbyvelde geskep word nie.

Borge

Kontak Warren 021-4224900

Warren (Renault Kaapstad) 021 422 4900

Craig Roberts  - 083 580 6482

Craig Roberts 083 580 6482