Geskiedenis

“Dis waar dat die begin wat vandag gemaak word, maar klein is. Maar die grootheid van ‘n okkasie hang nie af van die omstandighede van die oomblik nie. Die grootheid van ‘n gebeurtenis hang af van wat daaruit gebore moet word” – Dr DF Malan, voorvegter vir Afrikaans en die Afrikaanse kultuur, by die opening van Hoërskool Jan van Riebeeck op 25 Januarie 1926.

Na die oorname van die Kaap deur Engeland vroeg in die 1800’s, moes alle openbare skole verengels. Met die NG Kerk se hulp is baie privaatskole gestig met Hollands as voertaal. Die Afrikaanse kind het tuis en met sy maats Afrikaans gesels, maar sy taal is deur vele, ook van sy eie mense, as ‘n minderwaardige taal sonder grammatika of letterkunde beskou. Maar danksy raadslid C.J. Langenhoven in die Kaapse Provinsiale Raad word Kaapland die eerste provinsie wat Afrikaans as voertaal in die skool toelaat.

Die laerskool wat Jan van Riebeeck sou word, open in 1921 met 24 leerlinge tot standerd IV, en groei binne vyf jaar tot 160 leerlinge. Vir eers is dit gevestig in ‘n huis in Rosmeadlaan, bekend as die Rosmeadskool, en daarna in Vinestraat, as die Vinestraatskool. Op 10 November 1925, by ‘n vergadering van die laerskool-skoolkomitee, beklemtoon dr. DF Malan (toe Minister van Binnelandse Sake en lid van die skoolkomitee) dat gesorg moet word dat laerskoolleerlinge wat hul primêre skoolloopbaan voltooi die volgende jaar ‘n heenkome het. Die owerheid stem na onderhandelinge toe dat ‘n hoërskool met Afrikaans as voertaal in Januarie 1926 gestig word, in die eerste jaar met slegs drie klasse, standerds VI tot VIII, met as voorwaarde minstens 20 leerlinge in totaal.

Die stigting van die Hoërskool Jan van Riebeeck in 1926 was die hoogtepunt van ‘n suksesvolle eeulange stryd van die Afrikaner vir die behoud van sy eie taal in sy eie skool.
Die naam, leuse, wapen en kleure van die twee skole sou eenders wees –naam: Laerskool Jan van Riebeeck en Hoërskool Jan van Riebeeck; leuse: “Wees Uself”; wapen: ‘n skild met die drie goue ringe van Van Riebeeck daarop en ‘n fakkel in die middel, met die kleure van Van Riebeeck se vlag.

Spoedig moes ‘n meer geskikte perseel as Vinestraat vir die Laerskool gevind word. Met verlof van die Administrateur word die Parkhouse-terrein in Kloofstraat aangekoop om voorlopig onderdak aan beide die laer- en hoërskole te gee. In die eerste maande van sy bestaan word die hoërskool in die Argiefgebou en ander lokale in Koningin Victoriastraat gehuisves, maar na die oprigting van die huidige laerskool-gebou in Kloofstraat in 1927 word ook die hoërskool vir die volgende twee jaar daar geakkommodeer.

Die eerste skoolhoof van die hoërskool is mnr J.J. Jordaan, indertyd lektor aan die Universiteit van Kaapstad. Op die eerste skooldag word 42 leerlinge ingeskryf, die meerderheid van Tamboerskloof, Tuine, Oranjezicht, Soutrivier en Woodstock, enkeles vanaf Drieankerbaai, Maitland, Observatory, Bantrybaai, Seepunt, die Kasteel, die Volksraad, Kenilworth, Lansdowne, Kuilsrivier, Gordonsbaai, en selfs een van so ver as Richmond. Daar is slegs twee onderwysers, geen speelplek vir die leerlinge, geen biblioteek, laboratorium of personeelkamer nie. Harde werk lê voor, maar met die toewyding, geloof en inspanning van die hoof en sy assistent, en die lojaliteit van die leerlinge en hul ouers, word die grondslag vir ‘n roemryke skool gelê.

Die Hoërskool kry in 1932 sy eie gebou hoër op in Kloofstraat waar hy vandag nog is. Leerlingetalle styg merkwaardig: van 42 leerlinge (met 3 onderwysers) in 1926 tot 318 leerlinge (met 14 onderwysers) in 1932. By die inwyding van die nuwe gebou in 1932 lê die SGO klem op die persoonlikheidsontwikkeling van leerlinge: karaktervorming en die opdoen van kennis. “Ons taak is om onsself met die Afrikaanse gemeenskap van die skiereiland te vereenselwig, en om die gemeenskap na die beste van ons vermoë te dien; ons roeping is ‘n sosiale, en in die breë sin van die woord, ook ‘n nasionale”. Afrikaners begin glo in hul eie taal as onderwysmedium, in hul eie kultuur, en in hulself.

Met die hulp van die Kaaplandse Administrateur, maj. van Zyl, word die woonhuis Welgemeend, ‘n volksmonument aanliggend aan die skool wat reeds in 1693 opgemeet en aan ‘n V.O.C.-amptenaar toegeken is, onteien en by die skoolterrein ingelyf.

In die vroeë 1940’s het die skool twee groot behoeftes: losiesgeriewe en ‘n sportterrein. Die bestaande twee kosinrigtings is buite die skoolterrein geleë en akkommodasie beperk. Baie aansoeke moes afgewys word. Deur die inisiatief van mnr JH Buys koop die Provinsie in 1945 die De Hoop-landgoed teen die hange van Leeukop vir sportdoeleindes vir die skool aan. ‘n Rugbyveld word in 1951 daar uitgelê en die seunskoshuis, Huis van der Merwe, word op die perseel van die landgoed se ou opstal opgerig. In 1955 word wooneiendomme aanliggend aan Stephen- en Lingenstrate aangeskaf en by die skoolterrein ingelyf. Die meisieskoshuis, Huis Jordaan, asook ‘n Olimpiese standaard swembad en tennisbane word op die Welgemeend-perseel opgerig.

Dr Malan se woorde van 1925 was profeties. Van ‘n klein begin groei Hoërskool Jan van Riebeeck oor die dekades ná 1926 tot ‘n baken van uitnemendheid. Baie van sy leerlinge beweeg daarna aan na die Suid-Afrikaanse Kollege (later UCT) en staan kop en skouers bo hul tydgenote uit. Die skool lewer konsekwent werk van hoogstaande gehalte en trek selfs leerlinge met huistaal Engels.

Kort na die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog in 1939 word sommige Afrikaanse skole, Jan van Riebeeck inkluis, met agterdog bejeën. Bedenkinge t.o.v. moedertaalmediumskole word in verskeie kringe, ook die Parlement, geopper, en daar is voornemens om alle Afrikaanse skole dubbelmedium te maak. Maar die leier van die Opposisie, mnr. CR Swart, latere staatspresident, stel in die Volksraad ‘n mosie in “ten gunste van die opvoedkundig gesonde beginsel van moedertaalmedium in die laer, sekondêre en hoër onderwys” en “verpligte deeglike onderrig in albei landstale”. In sy motiveringstoespraak sê hy: “Daar is geen skool in die Skiereiland wat soos die Afrikaansmediumskool, Jan van Riebeeck, gepresteer het nie en dit ook in Engels”. Die mosie word ondersteun deur politici aan albei kante van die Raad, mense soos minister JH Hofmeyr, dr. DF Malan, mnr. JJ Fouché, dr. TE Donges, dr. Karl Bremer en mnr. Eric Louw. Telkens word verwys na die uitmuntende werk wat Hoërskool Jan van Riebeeck in sy eerste kwarteeu verrig het.
Hoërskool Jan van Riebeeck het ‘n 88-jarige geskiedenis van groot prestasies – op akademiese, kultuur- en sportgebied. Sy oudleerlinge onderskei hulself op die hoogste vlakke in Suid-Afrika en buite sy grense. Daaronder tel ‘n staatspresident, hoof van die SA Vloot, grondlegger van Sasol, leidende RSA-kernkragnavorser, ander wêrelderkende navorsers in verskillende dissiplines en professore by vooraanstaande universiteite, appèlregters en ander gesiene regters en regspraktisyns; leidende medici waaronder ‘n lid van die wêreld se eerste hartoorplantingspan, ander gerekende professionele lui, geskiedkundiges en bewaringsleiers, landbouleiers en uitgelese wynmakers, vooraanstaande onderwysleiers, kultuurleiers, letterkundiges, kunstenaars en, in onlangse jare, ‘n nuwe geslag sakeleiers en tegnologie-innoveerders van wêreldformaat.

Met die viering van sy eerste eeu op die horison staan Hoërskool Jan van Riebeeck weer voor uitdagings, ‘n veranderde landskap in ‘n nuwe eeu. Dr DF Malan se woorde van 1925 bly vandag steeds toepaslik: “Die grootheid van ‘n gebeurtenis hang nie af van die omstandighede van die oomblik nie, maar van wat daaruit gebore moet word.”