Aktiwiteite – Kultuur

Debat / Redenaars / Vasvra
Jan van Riebeeck debatteer, redeneer en oefen algemene kennis uit in Afrikaans en Engels deurdat ons leerders aan ‘n wye spektrum van aktiwiteite bekendgestel word.

Afrikaanse debatvoering word jaarliks deur middel van die ATKV-debatstruktuur beoefen, byvoorbeeld streeksdebatte soos die US-Woordfees debats- kompetisie, plaaslike debatte soos “Dink of Sink” en skooldebatte tydens interskole.

Jan van Riebeeck se senior debatspanne spog nie verniet met uitnemende prestasies soos US- Woordfeeswenners in 2012 en 2013 nie, maar dring ook op nasionale vlak tot by die finaal van die ATKV-debat (2008 en 2012) deur.

Ons redenaars neem jaarliks deel aan die ATKV-redenaarskompetisie en word opgelei as kontinuïteit-aanbieders by plaaslike byeenkomste wat die vlak van redevoering ‘n wyer spektrum gee.

Vanweë ons leerders se puik vermoë om opinies te lug oor kwessies wat saak maak, nader RSG ons leerders op ‘n gereelde basis om op die lug mond uit te spoel oor aktuele sake.

Ons Engelse debatte vind in die Rotary Debating kompetisieformaat plaas. Ons Afrikaners staan glad nie terug vir ander skole as ons jaarliks ons debatte teen hul wen nie. Jy sal jaarliks ‘n Jan van Riebeeck Rotary Debating-span in die finaal sien debatteer.

Algemene-kennis en vasvra geniet baie aandag by Hoërskool Jan van Riebeeck. Die leerders ontwikkel op hierdie terrein weens deurlopende blootstelling aan vraestelle en olimpiades.

Ons vasvra-spanne vaar puik deurdat hul jaarliks tydens die bekende CALTEX Quiz hul staal wys. Jan van Riebeeck het in 2011 hierdie kompetisie gewen en is sedert sy deelname jaarliks onder die top 10 uit ‘n minimum van 50 skole wat deelneem.

Ons het ook in 2013 begin deelneem aan die Minquiz-kompetisie.

Toneel
Hoërskool Jan van Riebeeck se toneelvereniging is om verskeie redes in Suid-Afrika bekend.

In 2013 behaal Jan van Riebeeck weer ‘n tweede plek by Aardklop.

Die toneelvereniging het tot en met 2013 al agt produksies op die nasionale ATKV-finaal te Aardklop gehad (in die 11 jaar van sy bestaan). Die toneelvereniging het al nasionaal erkenning verwerf vir beste produksie, beste akteur, beste aktrise, beste tegniese aspekte, beste regie en mees belowende akteur.

Alhoewel hierdie vereniging nasionaal goed presteer, word daar ook deelgeneem aan verskeie streeksfeeste regoor Suid-Afrika om teaterkyk te bevorder en om toneelspel onder leerlinge te ontwikkel.

Gevolglik is oud-Jan van Riebeeckers soos Anneke Weidemann (Hanna Hoekom & Die Wonderwerker), Viljé Maritz (Binnelanders, Liefste Kyla en Verraaiers), Ludwig Binge (Bolandse Moorde) nou dikwels op die televisie en silwerdoek te sien.

Huidige Jan van Riebeeckers soos Wilhelm Schumann (Deeltitel Dames), Andrea Pienaar, Adele van Doorn, Janic Botha en Melnisha Arnolds (Thomas@) en Madeleine Pienaar (Faan se trein) hou tans die skool se naam hoog, as gevolg van hulle betrokkenheid by verskeie produksies.

Akteurs soos Cobus Rossouw en Milla Louw, asook Herman Binge, die televisievervaardiger en regisseur, het aan Hoërskool Jan van Riebeeck gematrikuleer.

Een ding is seker: toneel loop beslis diep deur die Jan van Riebeeck-are en dis die plek om jouself op ‘n unieke en ongekende wyse te ontwikkel.

Kuns
Jan van Riebeeckers en kuns is feitlik sinoniem.

Alhoewel daar min geleenthede vir kompetisie bestaan, neem ons deel aan plaaslike kuns-eisteddfods waarin ons goed presteer en waar ons alreeds kon spog met ‘n leerder (Gabrielle Kruger) wat as die algehele wenner van die US se kuns-eisteddfod in Stellenbosch (2010) aangewys is.

Die kuns- en fotografieklub is een van Jan van Riebeeck se mees aktiewe verenigings, waar leerders weekliks fotografievaardighede verfyn en die geleentheid kry om kultuur- en sportkodes af te neem. Leerders kry verder die geleentheid om deurlopend eie onderwerpe te analiseer en te publiseer op plaaslike mediaterreine.

Jan van Riebeeck is ook die bewaarders van die Boerneef-kunsversameling wat bewys lewer van die verantwoordelike wyse waarop ons die kunste kan waardeer, handhaaf, ontwikkel en uitbou.

Skryfkuns
Jan van Riebeeck is bekend vir sy skryfkultuur.

Hierdie kultuur word ontwikkel deur deelname aan die Kaapse Afrikaanse Letterkunde Eisteddfod waar ons leerders jaarliks hoogste lof ontvang en as medaljewenners aangewys word.

Baie van ons leerders se werke word op Litnet bemark en gepubliseer.

Trofees word jaarliks vir skryfbydraes toegeken om hierdie kultuur uit te bou.

Joernalistiek
Die skoolkoerant vir Jan van Riebeeckers deur Jan van Riebeeckers word die Onze Jan genoem. Onze Jan se kwartaallikse uitgawe is een van die hoogtepunte vir elke Jan van Riebeecker, omdat die inhoud strek vanaf verslaggewing, resensies, digkuns, skindernuus, foto’s, pretblaaie, grappies, redevoering tot by ‘n liefdes-ommie-hoekie.

Die unieke eienskap van Onze Jan is dat skoliere self die uitleg doen en inhoud bepaal onder leiding van ‘n mediahoof en redakteur.

Skoliere van graad 8 tot 12 vorm deel van die redaksie, of dit nou op die terrein van bemarking, skryf, fotografie of uitleg is. Die skoolkoerant word goed dopgehou deur mediavennote soos Media24 en professionele vryskutskrywers, wat die geleentheid aan ons redaksie bied om hulself verder te ontwikkel en sodoende die koerant tot ‘n waardige nuusbron te ontwikkel.

Musiek
Die baie aktiewe musiekdepartement funksioneer nie net vir vakonderrig nie, maar ook as kultuurkode.

Ons musiekleerders presteer jaarliks en masse op die UNISA-ererol met verdere topprestasies, soos dié van Flippie Scholtz (2010) wat onder die top 3 in die land vir musiekteorie aangewys is.

Jan van Riebeeck beskik oor ‘n ensemble wat verskeie instrumente insluit en ‘n groot verskeidenheid musiek uitvoer. Die ensemble kompeteer ook in plaaslike eisteddfod-kompetisies en presteer altyd met hoogste lof.

Die meisieskoor is hoog op die kulturele prestasielys: Hulle was al wenners van die Sans Souci-kompetisie, en behaal jaarliks baie goeie resultate by eisteddfods of die nasionale ATKV Applous-koorkompetisie.

Jan van Riebeeck beskik ook oor ‘n seuns a cappella- groep wat akoesties musiek maak. Hierdie seuns is in aanvraag by publieke sosiale byeenkomste en weet net hoe om in elke gehoorlid se hart te kruip.

Die meisieskoor en seuns- a cappella-groep snoer ook grrag kragte saam en sorg dan vir magiese oomblikke op die verhoog, of dit nou by die Olyffees in Riebeeck-Kasteel is of as finalis tydens die Kaapstad Lughawe koorkompetisie.

Laurika Rauch, Randall Wicomb, Johan Stemmet, die gevierde pianis Nina Schumann en die wyle Melanie Horne, en die internasionale orkesdirigent David de Villiers is musiekgeeste wat hier gematrikuleer het en hul musiektalent kon nalaat vir Jan van Riebeeckers.